Stel jou voor dat jy ‘n koopkontrak onderteken om jou droomhuis te koop en later uitvind dat die kontrak verval het, omdat jou verband een dag te laat goedgekeur is. Die situasie kan verder vererger word indien die Verkoper ‘n beter aanbod vir sy eiendom ontvang en die beter aanbod aanvaar.

Indien ‘n koopkontrak onderhewig gemaak word aan die vervulling van ‘n opskortende voorwaarde sal sodanige kontrak verval indien daar nie betyds aan die voorwaarde voldoen word nie. Dit is bevestig in die saak van Marais v Kovacs Investments 724 (Pty) Ltd [2009] 1 All SA 174 (C) (hierna “die Marais-saak” genoem). Daar is dan geen kontrak tussen die partye vir die koop van die eiendom nie en die Verkoper is vry om die eiendom aan ‘n derde party te verkoop.

Voorbeelde van ‘n opskortende voorwaarde is die verkryging van verbandgoedkeuring of die verkoop van die Koper se bestaande eiendom voor ‘n sekere datum. Dit is baie belangrik vir sowel die Koper as die Verkoper om te let op die bewoording van hierdie klousules en seker te maak dat albei partye hulle verpligtinge verstaan.

Die volgende is ‘n voorbeeld van die bewoording van ‘n opskortende voorwaarde met betrekking tot die goedkeuring van ‘n verband, soms ook na verwys as die “verbandvoorwaarde”- klousule: 

Hierdie Koopkontrak is onderhewig daaraan dat die Koper verbandgoedkeuring van ‘n finansiële instansie bekom ten bedrae van  R1 500 000 voor 2 Desember 2013, by gebreke waarvan hierdie ooreenkoms sal verval.

Sou, in die bogenoemde voorbeeld, ‘n verband vir die bedrag van R1 400 000, met ander woorde R100 000 minder as die vereiste bedrag, goedgekeur word voor 2 Desember 2013, sal daar nie aan die voorwaarde voldoen word nie en sal die kontrak dus verval. Net so, indien ‘n verband ten bedrae van R1 500 000 eers op 5 Desember 2013 goedgekeur word, sal daar nie betyds aan die voorwaarde voldoen word nie, en sal die kontrak ook verval, soos bevestig in die saak van Meyer v Barnardo and another 1984 (2) SA 580 (N).

Die partye kan egter ooreenkom om die tyd waarbinne die opskortende voorwaarde vervul moet word, te verleng. Sodanige verlenging moet op skrif gestel en onderteken word deur beide die Verkoper en die  Koper, soos per die vereistes van die Wet op Vervreemding van Grond 68 van 1981. Dit moet ook gedoen word voordat die tydperk waarvoor voorsiening gemaak word in die opskortende voorwaarde, verstryk het. In die bogenoemde voorbeeld sou dit beteken dat die partye die verlengingsdokument voor 2 Desember 2013 sal moet onderteken om te voorkom dat die koopkontrak verval. In die Marais-saak het die hof bevind dat selfs indien die opskortende voorwaarde in die koopkontrak gevoeg was tot die uitsluitlike voordeel van die Koper, die Koper sy voorneme om van die vereistes van die klousule afstand te doen, aan die Verkoper moes meedeel voordat die tydperk waarvoor voorsiening gemaak is, verval het.

In die Marais-saak het die partye ‘n skriftelike koopkontrak aangegaan met ‘n opskortende voorwaarde dat ‘n verband ten bedrae van R10 149 072 teen 15 Augustus 2005 verkry moes word. Die Koper het egter slegs ‘n verband ten bedrae van R9 650 000 verkry, welke verband op 2 Augustus 2005 toegestaan is. Die respondent se prokureurs het aangevoer dat die opskortende voorwaarde wesenlik vervul is omdat die tekort na hul mening net ‘n “klein tekort” en dus ‘n onbeduidende bedrag in vergelyking met die koopprys was. Die hof het nie saamgestem met hierdie stelling nie en bevind dat daar nie gesê kan word dat dit die partye se bedoeling was dat daar aan die opskortende voorwaarde voldoen is op enige ander manier as dit wat uitdruklik in die koopkontrak gestipuleer is nie. Die hof het bevind dat die kontrak dus verval het.

As ‘n opskortende voorwaarde nie vervul gaan word in die periode wat daaraan toegeken word in die koopkontrak nie, is dit raadsaam om eerder die nodige voorsorgmaatreëls te tref en sodoende te vermy dat die koopkontrak verval. Ons stel voor dat u ‘n professionele persoon raadpleeg vir advies in hierdie verband.

Verwysings: 

  • Kontraktereg, UNISA 2004
  • Selfstudie Aktekursus vir Prokureurs, Gawie le Roux
  • Alienation of Land Act 68 of 1981
  • Marais v Kovacs Investments 724 (Pty) Ltd [2009] 1 All SA 174 (C)
  • Meyer v Barnardo and another 1984 (2) SA 580 (N)

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X